Monday 1 November 2010

Gratis lidmaatskap en baie meer lede

Gratis lidmaatskap en baie meer lede. Dis die hoofoogmerk van die bestuur van die Jeffreysbaaise belastingbetalersvereniging in 2011. ‘n Voorstel hieroor gaan by die volgende algemene van die vereniging in Februarie 2011 ingedien word.

Die bestuur se visie is om die vereniging se ledetal met honderde lede uit te brei. Die hoofrede is om sy bedingingsmag te verhoog.

Tans beloop die ledegeld R40 per kalenderjaar. Elke jaar is dit ‘n ergernis om dit in te vorder. Gevolglik het dit ‘n negatiewe uitwerking op die ledetal. Dié probleem sal hopelik met gratis lidmaatskap omgesit word in ‘n deurlopende positiewe groei in die ledetal.

As die voorstel aanvaar word, sal nuwe lede aanstaande jaar steeds ‘n aansoekvorm moet voltooi. Die vereniging moet ‘n bewys van sy ledetal hê om sy spiere te kan wys.

Dr Barry Vosloo, die voorsitter van die vereniging, sê dit is noodsaaklik dat die vereniging uit ‘n posisie van krag moet kan praat. Die enigste manier om dit te doen, is dat inwoners in groot getalle by die vereniging aansluit. ‘n Duisend of twee duisend lede is nie vergesog nie, sê hy.

“Die tyd het aangebreek dat Jeffreysbaai se mense eienaarskap van die vereniging neem. Dit kan net bereik word as hulle in groot getalle hulle agter die vereniging skaar. Die dorp het baie talent en werkservaring uit menige sektor in sy midde. Dink net waartoe is ons staat as dit kollektief aangewend word.”

‘n Staande komitee insaake ledesake is geskep om onder meer na voorgaande om te sien. Die voorsitter is Jakkie Pieters. Hy is pas op die bestuurskomitee gekoöpteer. Barry Vosloo, die voorsitter van die bestuurskomitee en Japie Bosch, die sekretaris, sal ex officio op Jakkie se komitee dien. Laasgenoemde sal drie ander lede op sy komitee kan koöpteer.

Waar gaan die vereniging geld vandaan kry as ledegeld wegval? Die antwoord hierop is:

• Lede kan gevra word om ‘n vrywillige bydrae tot die vereniging se geldkas te maak: R5, R10, R20, R50 – dis jou keuse.
• Borge kan bekom word, indien nodig.
• Voorts: uitgawes kan aansienlik besnoei word deur meer van rekenaar-tegnologie gebruik te maak. Die vereniging se grootste uitgawe is vir die kopieëring van kennisgewings en nuusbriewe en posgeld. Deur meer van epos gebruik te maak, kan dié uitgawe aansienlik ingekort word. ‘n Grootse grootse poging is nodig om inwoners se epos-adresse te bekom. ‘n Lid wat toegang tot die internet het, kos die vereniging feitlik niks.

Diegene sonder ‘n epos-gerief, kan alle inligting oor die vereniging op hierdie blog kry. Internet-toegang is gratis by die openbare biblioteek in Da Gamaweg beskikbaar. Daar is agt rekenaars vir dié doel beskikbaar.

Die voorwaardes om dié gerief te gebruik, is:

• ‘n Persoon moet ‘n lid van die biblioteek wees (dis gratis vir permanente inwoners);
• Toegang is beperk tot 45 minute per dag en
• Die 45 minute moet aaneenlopend wees.

Die gebied wat die Jeffreysbaai-belastingbetalersvereniging bedien, het na raming 6 000 inwoners. Daar is dus ruim geleentheid om die lidmaatskap aansienlik uit te brei. Inwoners kan hulle gerus vergewis van die waarde van lidmaatskap tot die vereniging en waar hy in die munisipale opset inpas. Klik HIER vir ‘n volledige verduideliking in Afrikaans en klik HIER vir ‘n volledige verduideliking in Engels.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.