Friday 26 November 2010

Minister gee Kouga ‘n skrobbering

Mnr Sicelo Gqobana
Die munisipaliteit van Kouga het gister ‘n skrobbering van mnr Sicelo Gqobana, die Oos-Kaapse Minister Van Plaaslike Regering en Tradisionele Sake, gekry. Terselfdertyd het hy inwoners aangewakker om te kla as dit nodig is.

“As julle kla, is julle geregtig op antwoorde”, het hy verklaar.

Disrespek


Die minister en 12 van sy senior ampternare het 333 km van Bisho af gery om ‘n vergadering met belastingbetaler- en inwonersverenigings, raadslede en amptenare van Kouga in Humansdorp by te woon. Hy is met ‘n teleurstelling begroet.
Mnr Robbie Dennis
  • Eers is die aanvang van die vergaderting vertraag, omdat mnr Robbie Dennis, die uitvoerende burgemeester, laat was. Die Minister moes hom bel om te hoor waar hy is. Sowat 25 minute later eers het hy opgedaag.
  • Nie ‘n enkele amptenaar, die munisipale bestuurder ingesluit, het opgedaag nie.
  • Me Magdalene Dlomo, die speaker, het bykans ‘n uur laat opgedaag en langs die Minister gaan sit.
Mnr Dennis het verduidelik dat ander verpligtinge hom besig gehou het en dat sy amptenare ander vergaderings het om by te woon.

Dit het mnr Gqobana erg ontstig. Hy het mnr Dennis se redes as “disrespekvol” bestempel.

“Hierdie vergadering was geskeduleer. Ek en top-amptenare van my department het van Bisho af hierheen gekom. Almal het ‘n dag afgeneem om hier te wees. Die munisipale bestuurder (dr Eddie Rankwana) en die hooffinansiële beampte (mnr Ridwaan Abdullah) moes hier gewees het. Die burgemeester moes hulle so beveel het. Per slot van sake is hy die uitvoerende burgemeester. Dit is ‘n ernstige belediging wat ek vandag ervaar het. Dit het nog nooit tevore gebeur dat ‘n munisipale bestuurder nie opdaag by ‘n vergadering van hierdie aard nie. Ons sal verder hieraan aandag gee.”

Die teenwoordige belastingbetaler- en inwonersverenigings het hulle ook teen hierdie “minagting” uitgespreek.

Klagtes

Die Minister het gesê dat inwoners alle reg het om oor swak munisipale diens te kla.

“Enige persoon met ‘n klagte is geregtig op ‘n antwoord.”

As belastingbetaler- en inwonersverenigings nie bevredigende antwoorde kry nie, moet hulle dit by die adjunk-direkteur-generaal van sy department aanmeld.

Voorts het hy voorgestel dat die munisipaliteit ‘n “kliënte-dienskantoor” of ‘n “direktoraat van klagtes” open.

Inligtingspamflette behoort ook meer gereeld by die maandelikse munisipale rekeninge ingesluit te word om inwoners van inligting te voorsien.

Besoeke aan  Blanke-gebiede

Mnr Gqobana het gesê dat hy uitvoerende burgemeesters in die Oos-Kaap al gevra het waarom hulle versuim om Blanke-gebiede besoek. “Julle faal daarin om na die burgers uit te reik. Dis waarom hulle belastingbetalersverenigings stig en hulle probleme konsolideer.”

Rassisme

Aan die einde van ‘n suksesvolle vergadering het mnr Gqobana self vir ‘n onaangenaamheid gesorg tot hy gesê het dat hy ‘n “ondertoon van rassisme” bespeur het. Hy is verseker dit is nie so nie, maar dat die klagtes by die vergadering gegaan het oor onbekwaamhede in die munisipaliteit.

1 comment:

  1. Ek het n paar maande gelede my eerste vergadering i.v.m toeligting deur die amptenare van Kouga Munisipaliteit, om die inwoners in te lig oor sake oor Kouga, finansies ens. die geagte Burgemeester was toe ook ongeveer 20 menute laat. Die inligting sessie was so n eenrigting verkeer dat ek dit nie die moeite werd gevind het nie, ek kan my tyd beter spandeer

    Barrie Barnard

    ReplyDelete

Please enter your comments here.