Wednesday 17 November 2010

Oud-toesighouer van Kouga in hof ná bedrog

’n Voormalige toesighouer van die Kouga-munisipaliteit in Jeffreysbaai het op aanklagte van diefstal wat nagenoeg R863 400 beloop, in die hof verskyn.

Me. Janice Jolinda Savage (49) van Duineweg in die Pellsrus-woonbuurt het gister (15 Novembner 2010) vir die eerste keer in die Baaise handelshof verskyn, berig Clarissa Venter, Die Burger.

Adv. Ulrieke de Klerk, staatsaanklaer, het gesê die saak is tot 15 Desember uitgestel sodat Savage ’n regsverteenwoordiger kan raadpleeg. Savage is vroeër op waarskuwing vrygelaat.

Volgens die klagstaat het Savage dié geld na bewering binne ’n week, tussen 15 en 23 April vanjaar, gesteel.

Sy was die toesighouer oor die finansiële departement by dié munisipaliteit en moes toesien dat wagte van die Coin-sekerheidsmaatskappy banksakke met kontant en tjeks daarin na die FNB-bank op die dorp neem.
Maar vir dié spesifieke week in April het die Coin-wagte glo geen banksakke ontvang nie en gevolglik is die geld nie gebank nie.

Tjeks vir R599 360 en R264 030 kontant was ook nie in die munisipaliteit se kluis te vinde nie.

Die klagstaat wys daarop dat Savage verantwoordelik was om die munisipale kassiere se daaglikse inkomste na te gaan en toe te sien dat geen foute begaan is nie.

Savage het ’n handgeskrewe opsomming van die daaglikse inkomste van elke kassier voltooi wat dan deur haar én die betrokke kassier onderteken is.

Voorts was dit haar plig om ’n bank-depositostrokie – wat deur ’n kassier voltooi is – saam met kontant, tjeks en die handgeskrewe opsomming in ’n Coin-banksak te plaas. Hierop het sy die Coin-sakke verseël en in ’n kluis op die perseel gebêre. Sy was glo die enigste een in besit van dié kluissleutel.

Die Coin-sekerheidsmaatskappy het die sakke dan by haar kom afhaal en na die bank geneem.

Me. Laura-Leigh Randall, munisipale woordvoerder van Kouga, het bevestig Savage het bedank kort nadat die diefstal aan die lig gekom het.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.