Thursday 4 November 2010

Die grootste misdaad in SA is kragdiefstal

Die diefstal van elektrisiteit is in geldterme die grootste vorm van misdaad in die land.

Hoewel Suid-Afrika in die afgelope jaar R4,4 miljard as gevolg van die diefstal van elektrisiteit gely het, is nie een enkele persoon in hegtenis geneem of verantwoordelik gehou vir die misdaad nie.

Diefstal van elektrisiteit word nie beskou as ’n misdaad nie. Niemand kan dus in hegtenis geneem word nie. Daarom buit mense en besighede dié swakpunt in die wetgewing goed uit.

Eskom se uitvoerende hoof, mnr. Brian Dames, sê van die verlies van R4,4 miljard is Eskom se verlies R1,2 miljard en die oorblywende bedrag (R3,2 miljard) die van die munisipaliteite.
  •  R1 miljard = R1 000 000 000 (Een duisend miljoen)
  • R4,4 miljard = R4 400 000 000 (Vier duisend vier honderd miljoen)
Dames sê nuwe, beter wetgewing met tande is dringend nodig om die diefstal van elektrisiteit ’n strafregtelike oortreding te maak.

As jy elektrisiteit steel is dit soortgelyk aan sabotasie. Jy saboteer die land se ekonomiese vooruitsigte.

In 1994 het 30% van residensiële verbruikers in Suid-Afrika elektrisiteit gehad. Vandag is dit 70%. Die probleem is egter dat baie van die nuwe verbruikers glo die elektrisiteit is verniet (as gevolg van politieke beloftes).

Politici moet op voetsoolvlak met gemeenskapsleiers praat en hulle daarvan oortuig dat elektrisiteit nie gratis is nie.

Eskom het verlede week ’n nuwe inisiatief, Operasie Khanyisa, begin om dié soort diefstal hok te slaan. Toe dit bekendgestel is, was daar niemand van die drie alliansievennote, die ANC, Cosatu of die SAKP teenwoordig nie.

Daar word verwag dat beurtkrag weer volgende jaar toegepas gaan word tensy buitengewone stappe gedoen word.

Klik HIER vir die volledige berig in SAKE24.  Klik HIER vir 'n vroeëre berig oor kragdiefstal in die sakesektor.  Click HERE for an English report.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.