Thursday 14 October 2010

Laksheid en kansvatters word vasgevat

Lakse personeel en kansvatters in die Kouga-munisipaliteit se sake word geroer.  Verhoogde produktiwiteit en die uitskakeling van bate-wanaanwending is die mikpunt.

Dít blyk uit ‘n onderhoud met dr. Eddie Rankwana, die munisipale bestuurder.  Dr Barry Vosloo, voorsitter, van die Jeffreysbaai-belastingbetalersvereniging, en Japie Bosch, sekretaris, het vroeër dié week met hom gesels.

Dr Rankwana het onder meer na die volgende twee ontwikkelings in die munisipaliteit verwys:

Die aanstelling van me Carlien Burger as risiko- en voldoeningsbestuurder (risk and compliance manager). “Haar aanstelling was een van die beste skuiwe wat ons in die munisipaliteit gemaak het. Die werk wat sy tot onderneem het, hou baie waarde vir die munisipaliteit en die inwoners in.  Van haar ondersoeke en die bevindings daarvan is in ‘n sensitiewe stadium. Dit sal metteryd geopenbaar word”.

Me Burger, BCom (Hons) (Rekeningkunde), is in Februarie 2010 aangestel. Samevattend behels haar werk die identifisering van finansiële risiko’s in die munisipaliteit en toesig dat voldoen word aan maatreëls om die risiko’s te elimineer. Sy rapporteer regstreeks aan dr Rankwana. (Klik hier om ‘n vroeëre berig oor haar werk te lees.)

• ‘n Organsiasie- en metodestudie (O+M-studie) van alle afdelings van die munisipaliteit sal binne enkele weke begin. Dit sal daarop gemik wees om produktiwiteit te verbeter.

‘n Private maatskappy sal die studie onderneem. Dit sal deur die Ontwikkelingbank van Suidelike Afrika (DBSA) befonds word. Volgens dr Rankwana het die projekbestuurder van die studie hom verlede week besoek.

By www. businessdictionary.com word ‘n O+M-studie soos volg gedefinieer: systematic examination of an organization's structure, procedures and methods, and management and control, from the lowest (clerical or shop-floor) level to the highest (CEO, president, managing director). Its objective is to assess their comparative efficiency in achieving defined organizational aims. O&M concerns itself mainly with administrative procedures (not manufacturing operations) and employs techniques such as operations research, work-study, and systems analysis.

Een van die grootste klagtes van die publiek oor munisipale amptenare is hul traagheid. Dr Rankwana bevestig dat dit ‘n teleurstellende toedrag van sake is. “Ons wil dit regstel. Die O+M-studie sal hopelik uitwys waar die probleme lê en aanbevelings maak oor hoe ons dit moet aanpak.”

Dr Rankwana het gesê dat die munisipaliteit desperaat is om grootmaatdienste in Kouga wat water, riool en paaie insluit, uit te brei. Hiervoor is minstens R50 miljoen nodig. ‘n Besigheidsplan hieroor is reeds saamgestel. Die geld om die werk te doen, moet nou gevind word.

Die munisipaliteit is deeglik bewus van waterlekkasies in die munisipale gebied. Dit geniet ‘n hoë prioriteit. Onwettige elektrisiteitsaansluitings en watervermorsing in sekere woongebiede is eweneens ‘n groot probleem.

“Amptenare ontkoppel vandag ‘n onwettige aansluiting net om more ‘n nuwe een elders te sien. Hulle word dikwels met vyandigheid begroet as hulle dié aansluitings verwyder. Watervermorsing, veral by openbare krane, is ‘n gesindheidsprobleem.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.