Tuesday 19 October 2010

Klagtes oor swak dienste ‘oordryf’

Kaapstad. – Plaaslike regerings val nie uitmekaar nie en munisipaliteite werk, het mnr. Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gister in die parlement gesê.

Hy het hom bloedig vererg vir opposisiepartye se uitlatings dat dienslewering “skrikwekkend swak” is en het gesê hulle “oordryf”, berig Beeld.

Volgens hom en mnr. Elroy Africa, direkteur-generaal, het dorpe en stede oor die land heen water in hul krane, daar is paaie en elektrisiteit én die verkeersligte werk.

Boonop is dit danksy funksionerende munisipaliteite dat buitelandse besoekers tydens WB 2010 die land se lof besing het, het Shiceka gesê.

“Om bloot ’n paar plekke uit te sonder en te wil voorgee daar is ’n krisis, is onakkuraat, ’n oordrywing en ’n wanvoorstelling van die feite.

“Daar is probleme, maar munisipaliteite wérk,” het Shiceka aan die portefeulje­komitee oor samewerkende regering gesê.

Shiceka se ontkenning het gevolg op die bedenkings van mnre. James Lorimer, DA-LP, en Peter Smith, IVP-LP, oor Africa se uitlatings dat “plaaslike regerings werk” en die departement die “boot op koers hou ten spyte van verskeie uitdagings”.

“Dít is nuus vir inwoners van Sannieshof (waar inwoners hul dienstegeld uit protes weerhou) en belastingbetalers in Johannesburg,” het Lorimer teruggekap.

“Dink jy waarlik jou verklaring is korrek ... terwyl plaaslike regerings op verskeie vlakke klaaglik misluk?” het hy aan Africa gevra.

Ook Smith het aannames dat die departement goeie vordering maak, bevraagteken.

“Ons hoor van ’n waterkrisis en onverwerkte rioolafval. Dienslewering is nie naastenby wat dit moet wees nie.

“Dis skrikwekkend wat op grondvlak aangaan.”


Die departement het ’n ongekwalifiseerde ouditverslag vir die 2009-’10-boekjaar gekry – ’n verbetering op die vorige jaar se gekwalifiseerde oudit.

Africa het dít, asook hul opname van die stand van plaaslike regering en die nasionale regrukplan vir munisipaliteite, as suksesse uitgesonder.

Die departement het in dieselfde tydperk tot R49,6 miljoen (bykans R136 000 per dag) aan reis- en verblyfkoste bestee. Volgens Africa spruit dit uit die besoeke wat staatsamptenare by munisipaliteite afgelê het om met die regrukstrategie te help.

Africa het toegegee dit is ’n probleem dat munisipaliteite die afgelope boekjaar nagelaat het om byna R2,2 miljard aan infrastruktuur vir basiese dienste te bestee.

Munisipaliteite het weens ’n gebrek aan professionele vaardighede nie behoorlike verkrygingsprosedures of finansiële stelsels om hul begrotings vir infrastruktuurontwikkeling te bestee nie.

Maar volgens Shiceka sal die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Stelsels munisipaliteite in professionele werkomgewings verander.

Dit sal ’n minimum peil vir die vaardighede, ervaring en kwalifikasies van munisipale en senior bestuurders afdwing, munisipaliteite depolitiseer en verhinder dat dienslewering weens politieke binnegevegte verlam word.

- Intussen het dit aan die lig gekom inwoners, staatsdepartemente en openbare staatsondernemings skuld R56 miljard aan diens­tegeld.

Die bedrag is gelykstaande aan die polisie se hele begroting vir die huidige boekjaar.

Shiceka het agterna gesê sy departement oorweeg dit om diensteskuld namens munisipaliteite in te vorder omdat die kapasiteit op plaaslike regeringsvlak ontbreek.

Dank hom af, sê AfriForum op 20 Oktober 2010 in antwoord of minister Shiceka

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake moet in die pad gesteek word omdat hy oogklappe aan het oor die stand van munisipaliteite, het Afriforum Woensdag gesê.

Minister Sicelo Shiceka is "ver verwyder" van die diensleweringskrisis in die land, het mnr. Cornelius Jansen van Rensburg Woensdag gesê, berig SAPA, via Beeld.

Shiceka het gister in die parlement gesê plaaslike regerings val nie uitmekaar nie en munisipaliteite funksioneer. Sy mening is dat die opposisie se mening dat dienslewering "skrikwekkend swak" is, 'n oordrywing van die situasie is.

In dorpe soos Dealesville en Winburg het mense nie eens water nie, het Jansen van Rensburg gesê.

"As die minister die feite in twyfel trek, sal AfriForum hom gaan wys."

Waar was die minister in Junie toe Eskom die krag na meer as 50 dorpe in die Vrystaat wou afsny.

"Die feit dat die minister dink dienslewering is aanvaarbaar en dat dit relatief goed funksioneer is 'n aanduiding van sy onbevoegdheid en hy behoort afgedank te word," het Jansen van Rensburg gesê.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.