Sunday 2 January 2011

Waarom hou raadslede nie openbare vergaderings nie?

Hy wil weet waarom raadslede van die munisipale wyke in Jeffreysbaai nooit openbare vergaderings hou om verslag aan inwoners te doen nie, het Japie Bosch, sekretaris van die Jeffreysbaai-belastingbetalersvereniging, by ‘n vergadering wat vir vakansiegangers met eiendom in Jeffreysbaai gehou is, gevra, berig die Our Times.

Bosch het gesê dat in die amper drie jaar wat hy hier woon, het hy nog nie van so ‘n vergadering gehoor nie.  Hy is van mening dat raadslede behoort:

·     Terugvoering te gee oor hul werk en wat in die munisipaliteit gebeur;
·      Inwoners te vertel wat hulle reggekry het in hul wyke;
·      Vertolkings te gee om besluite van die munisipaliteit en
·      Hoe besluite inwoners gaan raak.

Raadslid Nico Botha se antwoord was dat raadslede aan ‘n “kode” verbind is oor wat hulle mag sê.  Voorts het hy gesê dat die munisipaliteit van tyd tot tyd inligtingsvergaderings hou.  Volgens hom en raadslid Mercia Ungerer versprei hulle soms nuusbriewe.

Bosch het ná die vergadering aan die Our Times gesê dat die raadslede nie sy vraag beantwoord het nie. 

“Landwyd het raadslede verslagvergaderings vir hul kiesers.  Hoekom nie hier nie?  Wat is die ‘kode’ waarvan dr. Botha praat?  Daar is g’n kode wat raadslede verbied om met die kiesers te praat nie.

“Dr Botha behoort ook nie vergaderings wat die munisipaliteit reël met verslagvergaderings van raadslede te verwar nie. 

“Die enkele nuusbriewe wat ek per epos gekry het, was karig.  Wat is die nut van ‘n raadslid as hy nie aan sy kiesers verslag doen en hulle die geleentheid gee om hom vrae te vra nie?” wil Bosch weet.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.