Sunday 16 January 2011

Munisipale verkiesing kan erg misbruik word

Pretoria. - Die komende munisipale verkiesing kan plaaslike owerhede se begrotingsproses en geldsake lelik deurmekaar krap.

Dít blyk uit ’n omsendbrief waarin die nasionale tesourie munisipaliteite onder meer waarsku teen onrealisties lae tariewe en beloftes van reusekapitaalbesteding wat daarop gemik is om stemme te werf, berig Sake24.

Die tesourie maan dat die proses van openbare deelname ten opsigte van die begroting deur politici misbruik kan word om stemme te werf.

Die munisipale verkiesing moet tussen 2 Maart en 2 Junie gehou word, maar die presiese datum is nog nie bekend gemaak nie.

Munisipaliteite landwyd is egter in die eerste helfte van die kalenderjaar druk besig met hul begrotingsproses, binne ’n streng wetlik voorgeskrewe tydraamwerk.

Normaalweg word die konsepbegroting teen 31 Maart in die raad ter tafel gelê, waarna ’n openbare konsultasieproses begin, alvorens dit in Mei oorweeg en goedgekeur word.

Volgens wet moet alle rade hul begroting voor 30 Junie goedkeur sodat hulle die nuwe boekjaar, wat op 1 Julie begin, met ’n goedgekeurde begroting binnegaan. Die tesourie waarsku dat dié proses deur die verkiesing ontwrig kan word.


Munisipaliteite mag net aan die begin van die boekjaar tariewe aanpas. As die nuwe begroting nie voor 1 Julie goedgekeur is nie, verbeur hulle dié geleentheid en bly die ou tariewe geld. Dit kan tot ’n onmiddellike finansiële krisis en bestuurs­oorname deur die provin­siale regering lei.

Afhangende van die verkiesingsdatum kan daar dalk genoeg tyd wees vir die nuut verkose raad om hom te organiseer om die konsepbegroting voor die einde van Junie te oorweeg en goed te keur, sê die tesourie. Die gevaar is egter dat die nuwe raad dan daaraan wil verander en ’n klug maak van die konsultasieproses wat dan reeds agter die rug is.

Onverwagse gebeure, soos ’n vertraging met die uitslae of ’n hofgeveg oor die uitslae, kan lei tot vertragings, wat die raad sonder ’n begroting in die nuwe boekjaar laat.

Veral distriksmunisipaliteite, wat langer neem om ná ’n verkiesings saamgestel te word as plaas­like munisipaliteite, moenie dié kans vat nie, waarsku die tesourie.

Rade moet ook nie dink hulle kan ’n onrealistiese begroting opstel in ’n poging om stemme in te palm en dit vroeg in die nuwe boekjaar verander nie. ’n Aangepaste begroting mag eers ná ses maande, dus ná 1 Januarie volgende jaar, goed­gekeur word en die omvang van veranderinge is beperk.

Die tesourie beveel aan dat die uittredende raad die begroting voor einde April goedkeur en sê slegs waar plaaslike omstandighede dit verg, kan uittredende rade die begroting voorberei, maar dit vir die nuwe raad laat om dit goed te keur. Dit moet dan vroeg in Maart ter tafel gelê word, met konsultasie in die res van Maart en April. Amptenare moet dan die tegniese werk aan die begroting afhandel sodat die nuwe raad die begroting teen 1 Junie kan oorweeg.

Dr. Ernie Jacobson, burgemeesterskomiteelid vir finansies in Tshwane, sê dié raad oorweeg nog die tesourie se voorstelle. Dit sal egter moeilik wees om die begroting vroeër goed te keur, aangesien die insluiting van die plaaslike owerhede van Kungwini en Nokeng tsa Taemane en die Metsweding-distriksmunisipaliteit van ná die verkiesing die proses kompliseer.

Kaapstad het besluit om sy konsepbegroting op 23 Februarie ter tafel te lê en dat die uittredende raad dit op 11 Mei moet goedkeur. Dié raad grond sy beplanning op ’n moontlike verkiesingsdatum van 18 Mei. Volgens me. Kylie Hatton, woordvoerder, gaan die konsultasie in Februarie en Maart plaasvind om te voorkom dat dit saamval met die openbare vakansiedae in April.

Mnr. Koos Vorster, lid van die finansiële komitee van die New­castle-munisipaliteit, sê in die verlede het een party nie altyd ’n volstrekte meerderheid in die ver- kiesing behaal nie. Omdat die samestelling van ’n koalisie die samestelling van die nuwe raad kan vertraag, het die huidige raad besluit om nie kanse te waag nie en die begroting vroegtydig goed te keur.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.