Friday 8 October 2010

Stilte is dié probleem

Stilte.

Dit is een van die grootste klagtes van die inwoners van Jeffreysbaai teen die munisipaliteit. Navrae word eenvoudig nie beantwoord nie en klagtes en versoeke kry nie aandag nie.

Dit het Woensdagaand, 29 September 2010, duidelik geblyk by ‘n algemene vergadering van die Jeffreysbaaise Belastingbetalersvereniging by die tennisklub. Sowat 60 mense was teenwoordig.

Mense is kwaad




Dr Barry Vosloo
Ná die vergadering het dr Barry Vosloo, die voorsitter, gesê: “Die mense is kwaad. Hulle is keelvol vir die swak diens wat hulle van sekere amptenare van die Kouga munisipaliteit ontvang. Wat hulle irritasie vergerger is die feit dat húlle daardie einste munisipale amptenare se buitensporige salarisse betaal.

Uitnodiging 1

“Lede is veral vies omdat hulle dikwels 'n paar keer met die amptenare in verbinding moet tree en dat hulle navrae/versoeke dan óf geïgnoreer word óf dat dit té lank duur voordat daarop gereageer word.”

Dr Vosloo het inwoners genooi om hul klagtes aan hom te stuur sodat die vereniging dit met die munisipale bestuurder kan opneem. Hy kan per epos bereik word by vosloobj@telkomsa.net of by Posbus 436, Jeffreysbaai 6330.

Geen belastingweerhouding

Desondanks het dr Vosloo in sy voorsittersverslag beklemtoon dat die vereniging nie ten gunste van konfrontasie met die munisipaliteit is nie en ook nie belastingweerhouding bepleit nie. Meer sal met goeie verhoudinge en onderhandeling bereik word.

Munisipale bestuurder

In dié opsig het hy na die samewerking met dr Eddie Rankwana, die munisipale bestuurder, verwys.

“Ek is van oordeel dat die munisipale bestuurder 'n toeganklike man is wat homself moet handhaaf in ‘n werksomgewing wat die meeste van ons ons nie kan voorstel nie. Tog het hy twee keer uit sy pad gegaan om aan ons antwoorde te verskaf op 'n aantal moeilike vrae. Een van sy belangrikste krukke is wetgewing, wat hy nougeset toepas.”

Uitnodiging 2

Dr Vosloo het ‘n beroep op kundiges gedoen om hulself vir die bestuur van die vereniging beskikbaar te stel, Die bestuur word jaarliks by sy algemene jaarvergadering (AJV), normaalweg in Februarie, gehou. Hy het belangstellendes genooi om hom hieroor te kontak.

Pollie Marx en Jakkie Pieters

Twee nuwe bestuurslede is onlangs gekoöpteer. Hulle is mnr Pollie Marx, ‘n voormalige stadsraadlid van Barberton en nou ‘n sakeman en mnr Jakkie Pieters, ‘n man met wye ervaring in onder meer projekbestuur. As ‘n kwadropleeg dien hy in verskeie instansies wat na die belange van kwadropleë omsien.

Hersiening van die grondwet

Dr Vosloo het ook aangekondig dat die bestuur by die AJV voorstelle oor die hersiening van die grondwet gaan maak. Een daarvan is om die naam na die “Jeffreysbaaise Inwonersvereniging” te verander. Dit dui op die deelname van almal in die dorp aan die vereniging.

Die voorstelle sal binne enkele weke ter insae by die openbare biblioteek, die BP-garage in Da Gamaweg en op die vereniging se blog (www.jbayratepayers.com) beskikbaar wees.

"Waar was julle?"




Raadslid Nico Botha
Verwysend na klagtes oor infra-struktuur het raadslid Nico Botha gesê dat Jeffreysbaai se inwoners nie voldoende gebruik van openbare munisipale vergaderings om insette oor die dorp se jaarlikse begroting te lewer nie. Dit skep die wanindruk dat hulle tevrede is met hoe die stadsraad daarmee te werk gaan.

“By sulke vergaderings daag soms net drie of vier mense op. Dan is dit maklik vir die stadsraad om te beweer die inwoners is tevrede met wat opgedis word.” het hy gesê.
Print

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.