Wednesday 13 October 2010

Die redes vir die hoër riooltariewe

Die nuwe riooltariewe in Jeffreysbaai het niks te make met die huidige droogte waaronder Kouga gebuk gaan nie.

Die rede vir die verhoging is dat die ou riooltariewe nie die ware koste van rioolverwydering gedek het nie. Die munisipaliteit moes dus hierdie diens uit ander fondse subsideer. Geld vir die instandhouding en verbetering van die rioolinfrastruktuur moes ook van elders verkry word. Die hoër tariewe stel dié probleem nou reg.

Dít is die verduideliking wat die munisipaliteit gee op kritiek dat die hoër tariewe nie die waterskaartse gaan verlig nie. Die nuwe tarewe word aan 'n huishouding se waterverbruik gekoppel.  Hoe meer water gebruik word (om welke rede ookal), hoe meer betaal 'n mens vir rioolverwydering.

Linda Wiese, ‘n inwoner van die dorp, het onlangs op dié blog geskryf dat die verhoogde tariewe nie die watervoorraad kan vermeerder nie. “Dit kan my nie oorreed om water te bespaar nie, want ek doen dit reeds," skryf sy.

In reaksie daarop sê Laura-Leigh Randall, munisipale woordvoerder: “Volgens wetgewing, moet ‘n diens vir homself betaal. Met ander woorde, die inkomste wat ‘n munisipaliteit vir rioolverwydering ontvang, moet voldoende wees om die diens volhoudbaar te verskaf.

“Die nuwe riooltarief voldoen aan hierdie wetlike vereiste. Wat die munisipaliteit nou vir rioolverwydering ontvang, sal die koste om die diens te lewer, dek.

“Die feit dat die riooltarief ook waterbesparing aanmoedig omdat dit aan waterverbruik gekoppel is, is ‘n byvoordeel.

“Hier gaan dit oor LANGTERMYN waterbesparing of daar nou “amptelik” ‘n droogte is of nie.

“Ander munisipaliteite, soos ons bure, die Nelson Mandela Metro, het reeds jare gelede hierdie soort riooltarief begin implementeer.”

Me Randall het ander vrae van Linda soos volg beantwoord:

Waarvoor gaan die geld gebruik word?
    Vir die verskaffing van die RIOOL-diens, instandhouding en verbetering van die RIOOL-infrastruktuur.

    Is die tarief grondwetlik?
      Dis wetlik.

      Wat het die munisipaliteit al van sy kant gedoen om water vermorsing te keer? Is al die openbare instansies, veral skole al besoek, mense opgevoed en die toilette, krane en pype nagegaan vir lekke - en herstel?

      Ja, die munisipaliteit is deurlopend besig om waterverliese te verlaag deur lekplekke te identifiseer en reg te maak. Hoe dit basies gedoen word, is deur watermeterlesings vir spesifieke areas te vergelyk met die volumes water wat verskaf is. As daar 'n groot verskil is, is dit baie moontlik dat daar lekplekke in die pype is. Die lekplekke word dan opgespoor en reggemaak.

      No comments:

      Post a Comment

      Please enter your comments here.