Tuesday 28 September 2010

Beleid oor die koöptering van lede

Die vereniging het onlangs ‘n beleid neergelê waarvolgens lede op die bestuurskomitee gekoöpteer behoort te word.

Dit behels:
  1. Die bestuurskomitee moet ‘n kandidaat vir koöptering benoem.
  2. Die benoemde moet ‘n lid van die vereniging wees/word voordat sy/haar koöptering deur die bestuurskomitee bekragtig kan word.
  3. Die benoemde moet oor ‘n spesifieke vaardigheid/kwalifikasie beskik. Besluite hieroor berus by die bestuurskomitee.
  4. Die benoemde word deur ‘n afvaardiging van die bestuurskomitee besoek en van sy/haar benoeming verwittig.
  5. Die bestuurskomitee sal so gou doenlik oor die benoemde se besluit met betrekking tot aanvaarding of verwerping van die benoeming ingelig word.
  6. Indien die benoemde die bestuurskomitee se benoeming aanvaar, sal hy/sy tydens die eersvolgende bestuurskomiteevergadering verwelkom word.
  7. ‘n Gekoöpteerde lid moet so gou doenlik ‘n werkwyse waarop hy/sy self besluit, vir kennisname aan die bestuurskomitee voorlê.
In ‘n voorlegging aan die bestuurskomitee tydens die maandvergadering in Augustus 2010 wys voorsitter, dr Barry Vosloo, daarop dat die vereniging se grondwet die volgende bepaal:

Paragraaf 7(h): “Indien ‘n vakature in die komitee ontstaan, kan sodanige vakature deur die komitee gevul word, en sodanige lid beklee sy/haar amp tot die volgende Algemene Jaarvergadering …” en
Paragraaf 7(i): “Die Komitee mag enige addisionele lid of lede vir ‘n spesifieke doel koöpteer ...”

Tot nou was daar nie ‘n vasgestelde werkswyse ter aanvulling van die bovermelde bepalings nie. Vanweë dié gebrek het dr Vosloo voorgaande voorstelle gemaak wat nou ‘n beginselbesluit van die vereniging is.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.