Saturday 5 March 2011

Afskeepkind kan magtige swaard word

By Japie Bosch, first published in Our Times on 3rd March 2011

Jeffreysbaai het ‘n afskeepkind. 

Almal weet van hom, maar hulle steur hulle nie veel aan hom nie.  Hy gaan maar so op eie aan.

Dié kind het nou al so hulpeloos en selfs hopeloos geword dat hyself nie meer lus vir die lewe het nie.

Eendag as die dorp hom nodig gaan hê, sal die mense hom uit die dode moet  wek, tensy hulle hom nóú in hul huise begin verwelkom.

Dis nou die belastingbetalersvereniging (BBV), of te wel die inwonersvereniging, soos hy verlede week herdoop is.

Die afgelope  paar jaar voer die vereniging ‘n sukkelbestaan.  Uit die klompie duisend mense in die dorp het hy skaars 100 lede.  By verlede week se algemene jaarvergadering was daar slegs sowat 70 lede teenwoordig. 

Uit die geledere van die teenwoordiges was daar net vier wat bereid was om in die bestuurskomitee te dien.  Ingevolge die vereniging se grondwet moet daar sewe komiteelede wees.  Só, hulle kort nog drie.  Swak, Jeffreysbaai, swak.

Dit is eienaardig.  Maar ook nie.

Dis eienaardig, omdat belastingbetalersverenigings deur die land normaalweg ‘n goeie naam het.  Hulle dien ‘n goeie doel, want hulle hou ‘n oog oor die manewales wat munisipaliteite uithaal.  Dit was so in die ou Suid-Afrika.  Des te meer nou in die nuwe Suid-Afrika.

Sê nou die burgemeester vra die vereniging:  “Wie verteenwoordig julle?  Hoeveel lede het  julle vereniging?”

As die antwoord (soos nou) is:  “Een honderd mense,” gaan hy in sy mou lag.  As die antwoord is:  “Een duisend mense,” gaan hy in sy moue en broekspype bewe.

Dit is voor-die-hand-liggend dat die kollektiewe krag van ‘n dorp se inwoners ‘n munisipaliteit opdraende kan gee.

Dis ook nie eienaardig nie dat die vereniging deur die inwoners afgeskeep word, omdat hy oor ‘n lang tydperk nie veel gedoen het om lede te werf nie.  Hy het nie sy werk, veral sy suksesse, openbaar gemaak nie. 

Het hy suksesse gehad? 

‘n Ruk terug het die regering ‘n omdraai-strategie vir munisipaliteite aangekondig.  (Nog niks het daarvan gekom nie, terloops.)  Die vereniging kort ook ‘n omdraai-strategie.

Dr Barry Vosloo, die vereniging se pas-uitgetrede voorsitter sedert Julie verlede jaar, het met ‘n reeks inisiatiewe begin.  Een daarvan was omvattende wysigings aan die grondwet wat verlede week goedgekeur is.  Hy het ook ander nuwe strukture in die vereniging gevestig. 

Hopelik sal mnr Trevor Watkins, die nuwe voorsitter, met vernuwings voortgaan.  Hy het reeds onderneem om die vereniging se ledetaal teen die middel van die jaar tot minstens 1 000 te laat groei.

Jeffreysbaai se inwoners kort ook ‘n omdraai-strategie.  Die vereniging gaan nie om sy bestuur nie  --  daardie paar wat hulle beskikbaar stel en bereid is om werk te doen.  Dit gaan oor sy lede en hul munisipale belange.

 ‘n Bewustheid van gemeenskaplikheid oor munisipale sake, veral dié wat verkeerd loop, behoort by Jeffreysbaai se mense pos te vat. 

Gebeur dit nie, gaan die vereniging sterf.

En as hy eendag regtig benodig word, gaan daar miskien niemand wees om te lei nie, want wie wil lei sonder volgelinge?

Wíl Jeffreysbaai ‘n inwonersvereniging hê? 

As die gemeenskap nie deelname toon  nie, verdien hulle nie een nie.

·      Om aan te sluit, kan u Jakkies Pieters bel of epos.  Sy besonderhede is:  042/293-2940 (huis), 083/376-6764 (sel), jakkie@ mweb.co.za.

Ledegeld is ‘n bekostigbare R40 per jaar.  Dis uitsluitlik vir administrasie.


No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.