Wednesday 16 March 2011

Swartlys van korrupte amptenare kom

Kaapstad - Korrupte munisipale amptenare gaan voortaan ingevolge wetgewing ’n dekade lank op ’n swartlys kom.

Die aanvanklike voorstel was dat munisipale amptenare wat weens finansiële wanbestuur, bedrog of korrupsie afgedank word minstens vyf jaar daarna nie by ’n munisipaliteit mag werk nie, maar dié tydperk is gister op aandrang van ANC-parlementslede tot tien jaar verleng, berig Beeld.

“Dit sal die boodskap tuisbring dat korrupsie onaanvaarbaar is,” het mnr. Lechesa Tsenoli, ANC-LP en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering, gesê.

Mnr. James Lorimer (DA) wil hê die verbod moet permanent wees.

Mnr. Mandla Mandela (ANC) het aangevoer korrupte munisipale amptenare moet “minstens” tien jaar lank nie weer ’n voet naby munisipaliteite sit nie. “Gewone mense moet vir ewig met die stigma saamleef as hulle aan korrupsie skuldig bevind is. Ek kan nie insien hoekom amptenare anders behandel moet word nie.”

’n Bepaling om korrupte amptenare op ’n swartlys te plaas is vervat in die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Stelsels wat voor die plaaslike verkiesings op die wetboek sal wees.

Die wetsontwerp vereis dat munisipaliteite rekord hou van tugoptrede teen amptenare en diegene wat weens wangedrag afgedank word. Ook die minister word verplig om ’n sentrale databank van afgedankte munisipale amptenare saam te stel, asook van diegene wat bedank het voordat die tugoptrede afgehandel is.

Munisipaliteite moet die databank of swartlys raadpleeg voordat aanstellings gemaak word.


Die wetgewing is sentraal tot mnr. Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering, se omkeerplan om die 283 munisipaliteite reg te ruk. Dit het ten doel om munisipaliteite in professionele werksomgewings te transformeer en wil verhoed dat dienslewering weens politieke binnegevegte verlam word.

Gevolglik word senior politici verbied om bestuursposte in munisipaliteite te beklee – ’n bepaling waaroor LP’s oor die politieke spektrum saamstem, ondanks besware dat dit politici se grondwetlike regte kan inperk. Ingevolge die wet mag munisipale en senior bestuurders nie in politieke partye se topposte – waaronder dié van voorsitter, sekretaris of tesourier – op nasionale, provinsiale of streekvlak dien nie.

Die wet sal die minister voorts magtig om regulasies uit te reik om minimum standaarde vir die vaardighede, ervaring en kwalifikasies van munisipale en senior bestuurders af te dwing. Die regulasies is nodig omdat talle munisipaliteite bestuurders aanstel wat nie die werk kan doen nie.

’n Taakspan van die nasionale departement het byvoorbeeld in 2009, toe munisipaliteite vir ’n oorsigverslag geëvalueer is, bevind ’n teemaker is oornag as ’n finansiële hoof aangestel. Volgens die oorsigverslag State of Local Government in South Africa van Oktober 2009 is munisipaliteite in ’n “noodtoestand”, onder meer weens onbevoegde aanstellings asook ’n gebrek aan kapasiteit en mense met skaars vaardighede.

Die regering het in die oorsigverslag erken kader-ontplooiing, nepotisme en politieke binnegevegte en inmenging verlam dienslewering. Voorts is bevind daar is weinig skeiding tussen die politieke verteenwoordigers en die amptenare wat vir munisipaliteite se dag-tot-dag verpligtinge verantwoordelik is.


Weens die gebrek aan skeiding tussen die rade en die administrasie is daar ’n “hoë omset in personeel” wanneer die politieke leierskap verander. Dit is veral akuut ná verkiesings. Die wet moet die skeiding van magte verseker.

Lorimer het gesê die DA steun die wetsontwerp.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.