Friday 23 July 2010

Munisipale bestuurder verbied alle oortyd

Alle oortyd van munisipale amptenare in die Kouga munisipaliteit is tot verdere kennisgewing gestaak.

Só het dr Eddie Rankwana, die munisipale bestuurder, dié week bekend gemaak tydens ‘n vergadering met lede van die Federation of Kouga Ratepayers’ and Residents’Association (FEKRRA).

Die doktor het die noodsaaklikheid van oortyd, soos dit tans toegepas word, bevraagteken. Oortyd vir “noodsituasies” sal voortaan duidelik gedefinieer word, het hy gesê.

Die vergadering het in ‘n goeie gees plaasgevind. Dr. Rankwana het FEKRRA genooi om maandeliks met hom gesprek te voer oor sake wat kwel. Hy het hom ook bereid verklaar om op ‘n ad hoc-grondslag met inviduele belastingbetalersverenigings gesprek te voer.

Ander sake wat hy bekend gemaak het, is:

• Die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika gaan op eie koste ‘n Organisasie- en Metodestudie in die munisipaliteit onderneem. Die doel is om werkmetodes te verbeter.
• ‘n Nuwe meganisme om klagtes van die publiek en veral belastingbetalersverenigings te hanteer, word tans ondersoek.
• Die tenderproses sal voortaan deur drie komitees hanteer word, naamlik ‘n tegniese komitee, ‘n evalueringskomitee en ‘n toekenningskomitee. Die publiek of politici sal nie by een van die komitees betrokke wees nie.
• ‘n Private maatskappy sal binnekort ‘n hidrologiese opname in Jeffreysbaai en omgewing uitvoer. Dit sal deur die Oos-kaapse provinsiale department van behuising befonds word. Die doel hiervan is om die oorsake en gevolge van stormwaterskade te bepaal. ‘n Aksieplan sal daarna opgestel word. FEKRRA sal genooi word om insette te lewer.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.