Monday 7 February 2011

Minister "betaal nie vir chaos"

Kaapstad - Mnr. Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering (wat plaaslike regering insluit), skuld die Johannesburgse munisipaliteit byna R35 000, maar dit is onbekend of sy water en ligte, net soos dié van 16000 ander Johannesburgers, afgesny is.

Me. Vuyelwa Vika, Shiceka se woordvoerder, het gister gesê sy weet nie wat die situasie by die minister se private woning in Midrand is nie, berig Die Burger.
 .
Shiceka het nie sy selfoon beantwoord nie en nie mnr. Kgamanyane Maphologela, Johannesburgse munisipale woordvoerder oor inkomste en kliëntediens, óf mnr. Amos Masondo, burgemeester, óf die Gautengse premier se kantoor kon die vraag beantwoord nie.

“Die minister sal graag sy diensterekening betaal, maar hy gaan nie duisende rande uithaal vir iets wat onverklaarbaar is nie,” het Vika gesê.

Volgens haar is Shiceka self ’n slagoffer van die munisipaliteit se chaotiese rekeningstelsel en “gaan dit al jare lank so”.

Sy eerste navraag oor ’n buitensporige diensterekening was in 2008. In die afgelope drie jaar het die situasie nie verander nie.

“Hy het in daardie stadium skaars twee dae per week in sy huis deurgebring, maar rekeninge ontvang waarvoor die munisipaliteit self nie ’n verklaring gehad het nie. Hy het toe gedink iemand het onwettig van sy krag getap.”
Die munisipaliteit het onderneem om ondersoek in te stel, maar die minister het tot op hede nog nie ’n woord daarvan gehoor nie.

Shiceka het intussen na ’n ministeriële woning in Pretoria verhuis.

“Sy huis in Midrand staan leeg, maar die rekening loop net op en op. Hy wil ’n antwoord hê voordat hy betaal,” het Vika gesê.

Die elektrisiteit van talle Johannesburgers met soortgelyke foutiewe diensterekeninge is sedert 1 Januarie summier afgesny.

Shiceka het verlede week ingegryp en die Gautengse departement van behuising en plaaslike regering tot 18 Februarie gegee om met ’n regrukplan vir die Johannesburgse rekeningprobleem vorendag te kom. Hy wil daarna ’n nasionale ondersoek na al die munisipaliteite se rekeningstelsels van stapel laat loop.

“Munisipaliteite is so besig met rekeninge dat dienslewering verwaarloos word,” het Vika gesê.

Die Sunday Timeshet gister berig Masondo het ’n brief oor Shiceka se agterstallige skuld aan mnr. Humphrey Mmemezi, Gautengse LUR vir behuising en plaaslike regering, en me. Nomvula Mokonyane, Gautengse premier, gestuur.

Masondo en Mmemezi se woordvoerders kon dit gister nie bevestig nie, maar volgens Vika is dit “jammer” dat daar op die minister se persoonlike sake gefokus word terwyl duisende inwoners ontrief word.

3 comments:

  1. Only in Africa ...

    ReplyDelete
  2. Van wanneer af is rekening beamptes ook by fisiese dienslewering betrokke?Hierdie regeringskelms is so glad----'n paling voel soos skuurpapier teen hulle.

    ReplyDelete

Please enter your comments here.