Saturday 12 February 2011

Belastingweerhouding of 'n alternatief: lede moet sê

Die bestuurskomitee van die Jeffreysbaai-belastingbetalersvereniging (JBV) het ‘n geruime tyd gelede ‘n beginselbesluit geneem om nie eiendomsbelastingboikotte uit protes teen gebrekkige dienslewering deur die munisipaliteit te oorweeg nie. Hy het egter terselfdertyd te kenne gegee dat hy meer aggressiewe maatreëls sal steun indien die omstandighede dit vereis.

Aangesien die munisipaliteit die afgelope paar maande getoon het dat hy hom min steur aan talle klagtes wat plaaslike belastingbetalers- en inwonersverenigings tot hom gerig het, het die bestuurskomitee besluit dat dit tyd geword het om sy lede in verband met die wenslikheid van belastingweerhouding te raadpleeg. Hierdie aangeleentheid sal tydens die algemene jaarvergadering op 22 Februarie ter tafel gelê word. Lede van die JBV sal gevra word om twee kante van die saak te oorweeg voordat hulle ‘n besluit neem.
  • Enersyds het die munisipaliteit tot dusver geen reaksie getoon op die meeste klagtes wat die vereniging namens sy lede ingedien het nie. Hierbenewens is talle bewerings van, onder andere, onbevoegdheid, wanbestuur, korrupsie, nepotisme, swak kommunikasie met inwoners, twyfelagtige tenderprosedures, wanaanwending van belastinggeld deur munisipale amptenare, welbekend. Die kersie op die koek is egter die feit dat die burgemeester en senior amptenare verlede jaar minagtend opgetree het deur laat of glad nie op te daag nie by ‘n vergadering wat die Oos-Kaapse Minister van Plaaslike Regering en Tradisionele Sake met belastingbetaler- en inwonersverenigings op Humansdorp belê het.
  • Andersyds het die JBV-bestuurskomitee die negatiewe gevolge van ‘n belastingboikot reeds verskeie kere aangetoon. Eerstens bestaan die risiko dat sodanige optrede onwettig is. Daarby is die huidige bestuurskomitee kwalik daartoe in staat om die administratiewe las wat ‘n boikot sal meebring, te hanteer. Derdens bestaan daar twyfel of ‘n groot deel van Jeffreysbaai se inwoners, veral die afgetredenes, hulle met so ‘n stap sal vereenselwig. Pogings om ‘n boikot vroeg in die vorige dekade te organiseer het skipbreuk gely, waarskynlik weens ‘n gebrek aan ondersteuning deur die dorp se belastingbetalers. Les bes, die basiese munisipale dienste soos water, elektrisiteit, riolering en vullisverwydering, word darem nog gelewer. -- Dr Barry Vosloo, voorsitter

1 comment:

  1. Ek is nie te vinde vir belastigweerhouding. Hier is baie vakansie huise in Jeffreys en die eienaars daarvan sal soiets moeilik ondersteun. Ek het dit verlede keer ondersteun en weens die swak ondersteuning moes ek handdoek ingooi sonder om iets te bereik.
    HM van Rooyen

    ReplyDelete

Please enter your comments here.