Friday 18 June 2010

Nuwe voorsitter en sekretaris; twee nuwe lede

Barry Vosloo is gisteraand as waarnemende voorsitter van die Jeffreysbaaise belastingbetalersvereniging (BBV) aangewys. Japie Bosch is die waarnemende sekretaris.

Dit volg nadat Henda Thiart, voorsitter, en Gerrie Botes, sekretaris, uit hul poste bedank het, omdat hulle hul toetrede tot die aktiewe politiek gemaak het. Albei het hulle as kandidate vir die Demokratiese Alliansie vir aanstaande jaar se munsipale verkiesing beskikbaar gestel.

Die poste is by ‘n bestuursvergadering van die BBV aan Vosloo en Bosch toevertrou tot die volgende algemene jaarvergadering in Augustus 2010.

Vosloo is ‘n voormalige skoolhoof, dosent en onderwyskundige van KwaZulu-Natal. Bosch is ‘n voormalige joernalis van ‘n Johannesburgse dagblad en hoofuitvoerende beampte van ‘n munisipale instituut.

Thiart en Botes sal as lede van die bestuur aanbly totdat hul kandidature vir die DA bekragtig is.

Met sy ampsaanvaarding het Vosloo sy dank vir diensbaarheid aan Thiart en Botes uitgespreek.

Hy het ook die vraag gestel: “Waarheen mik die BBV in die toekoms?”

Teen dié agtergrond sal die BBV-bestuur eersdaags ‘n werkwinkel hou. Die hoofdoelwit is om te sorg dat die BBV relevant bly.

Intussen is twee nuwe lede gekoöpteer. Hulle is
  • Willie Eksteen, ‘n voormalige hoofinterne ouditeur by ‘n mynmaatskappy, en 
  • Ludwig Vorster (Vossie), ‘n voormalige mynboubestuurder.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.