Sunday 6 June 2010

Die land hou van Jeffreysbaai

Uitsoekdorp, Uitsoek-vakansieplek. Uitsoek-blyplek.

Dit is Jeffreysbaai -- een van die drie Oos-Kaapse finaliste in Rapport en Kwêla op kykNET se “Dorp van die Jaar”-kompetisie. Die ander twee finaliste is Graaff-Reinet en Patensie. Nogal betekenisvol dat twee uit die drie in Kouga is.

“Hierdie kompetisie word nie deur burgemeesters en belanghebbendes bepaal nie, maar deur ons lesers en kykers self,” skryf Rapport.

“Dié is ’n kompetisie nié vir die skoonste dorp of die dorp met die beste munisipaliteit nie – daarvoor is daar ander kompetisies wat op ’n politieke vlak bedryf word. Nee, dié kompetisie gaan oor waar Rapport se lesers en Kwêla se kykers hulself tuis voel.”

Dit is yslike kompliment vir Jeffreysbaai.

Dit is juis op hierdie punt dat die burgemeester, sy uitvoerende komitee, die stadsraad en die amptenary ‘n bietjie moet stilstaan en dink. So ook die sakelui en die inwoners.

• Rapport is nie ‘n hierjy-koerantjie nie. Dis die grootste Afrikaanse koerant in die land. Sy sirkulasie is elke Sondag digby 300 000 en sy lesertal naby 1,6 miljoen. Die afgelope Sondag (6 Junie 2010) is ‘n hele bladsy aan die Oos-Kaapse finaliste afgestaan.

• kykNET se Kwêla is eweneens baie gewild. Dié program bestaan reeds 10 jaar. kykNET het ‘n kykertal van 1,7 miljoen mense (2009).

(Gratis nasionale advertensies wat andersins derduisende rande sou gekos het.)

Die land sê dus: ons hou van Jeffreysbaai. Ons voel tuis daar.

Toegegee, die kompetisie is in die Afrikaanse media, maar hoekom sou anderstalliges of wie en wat ookal anders dink?

Jeffreysbaai is nie net nog ‘n dorpie iewers nie. Landwyd hou Jeffreysbaai ‘n bekoring in vir mense. Deurdat die dorp ‘n finalis is, sal hy nog meer aanklank vind. Jeffreysbaai word in dieselfde asem as van die mooiste en gewildste ander dorpe in Suid-Afrika genoem. Ons het die see, see-sporte, die klimaat (behalwe soms), die natuurskoon, dolfyne, skulpe, blyplekke, kuierplekke, mooi dorpe rondom ons, die mense en wat nog.

Ander finaliste vir 2010 wat tot nou bekend is, is:
  • St. Lucia, Utrecht, Vryheid (Kwazulu-Natal); 
  • Cullinan, Heidelberg, Henley-on-Klip (Gauteng); 
  • Hartbeespoort, Sannieshof, Potchefstroom (Noordwes); 
  • Upington, Springbok, De Aar (Noord-Kaap); 
  • Dullstroom, Barberton, Wakkerstroom (Mpumalanga); 
  • Thabazimbi, Mookgopong (Naboomspruit) Haenertsburg (Limpopo).
Menere en mevroue by die munisipaliteit, ons Jeffreysbaaiers is danig oor hierdie prestasie van ons dorp. Maar ons is nie danig oor alles wat daar in die binnekamers van die munisipaliteit gebeur nie. Die Jeffreysbaaise Belastingbetalersverenging steek sy hand uit en sê: laat ons Jeffreysbaai saam ‘n nog mooier en gewilder plek maak. Ons wil nie ‘n finalis wees nie. Ons wil elke jaar ‘n wenner wees, maar daar is tekens dat dit anders gaan word.  Luister na inwoners, luister na die land.  Waak daarteen dat ons infrastruktuur verval en dat ons belasting- en dienstegeld verkeerd gekanaliseer word.
  • Lesers kan soos volg stem vir die gunsteling dorp in die Oos-Kaap: stuur ‘n SMS met die naam van u keuse uit die drie finaliste – Jeffreysbaai, Patensie of Graaff-Reinet – na 33157. Elke SMS kos R1,50. Jy kan 100 keer van een selfoonnommer af stem. Die sluitingsdatum is Dinsdag, 15 Julie 2010. Daar is pryse om te wen. Lees Rapport of kyk Kwêla. – Japie Bosch.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.