Friday 18 June 2010

Inwoners gewaarsku teen rondloperhonde

Nadat die BBV in Maart sy kommer uitgespreek het oor rondloperhonde wat die natuurlewe in die Noorsekloof bedreig, het die munisipale bestuurder laat weet dat die munisipaliteit natuurbewaring as ‘n saak van erns beskou. Hy het ook te kenne gegee dat hulle alles in die werk stel om ‘n oplossing vir die probleem te vind. Lees ook die berigte wat op 16 April 2010 en 11 Junie 2010 in hierdie blog verskyn het.

Links: At Röscher het dié pragfoto van die grysbokkie geneem. At woon langs die Noorsekloof en die bokkie wei dikwels in sy tuin.

‘n Afvaardiging van die BBV het op 14 Junie 2010 ’n opbouende gesprek oor die aangeleentheid gevoer met ‘n aantal munisipale amptenare onder leiding van mnr. Stanley Baartman, die hoof van veiligheid en sekuriteit.

Daar is ooreengekom dat die munisipale wetstoepassingsbeampte alle inwoners wie se eiendom aan die Noorsekloof-natuurreservaat grens, skriftelik sal inlig dat hulle vervolg kan word indien hulle toelaat dat hulle honde los rondloop en sodoende die dierelewe in die kloof bedreig. Hierbenewens sal ‘n algemene kennisgewing eersdaags by munisipale dienste-rekenings ingesluit word wat inwoners daarop wys dat hulle wetlik verplig word om hulle honde te alle tye onder beheer te hou.

Baartman het gesê dat die munisipaliteit tans op soek is na ‘n omgewingsbeampte wat sal moet omsien na die behoud van die Kouga se natuurlike bates.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.