Tuesday 11 May 2010

Munisipale rekeninge is té ingewikkeld

Selfs ’n universiteitsgraad sal jou nie juis help om jou munisipale rekening te verstaan nie, sê die Waternavorsingskommissie (WNK) ná ’n ondersoek.

Die WNK het bevind gewone Suid-Afrikaners sukkel om kop of stert uit te maak van dié rekenings.

Gegewens soos hoeveel water of krag hulle verbruik of hoeveel hulle daarvoor opdok, is Grieks vir die meeste mense – of, wel, omdat dit in Engels is.

Slegs 7,4% van die 2 500 belastingbetalers wat deur die kommissie genader is, kon hul maandelikse waterverbruik op die munisipale rekening vind.

Slegs 14% van mense in die hoë inkomstegroepe kon die korrekte antwoorde gee. Mense in lae inkomstegroepe en diegene wie se huistaal nie Engels is nie, sukkel om enige sin daarvan te maak.

Dr. Sarah Slabbert, projekleier van die WNK, sê in ’n verklaring daar moet van munisipaliteite en die regering gevra word hoe verbruikers water en elektrisiteit moet bespaar as hul water- en elektrisiteitverbruik só onverstaanbaar weergegee word.

Die meeste verbruikers verstaan nie eens die verskil tussen ’n liter en ’n kiloliter nie.

Daarby verstaan hulle ook nie wat terme soos “die balans wat oorgedra word”, “agterstallig” of “verbruik” beteken nie.

Kodes, afkortings en akronieme is vir hulle Grieks.

Die WNK pleit dus vir die standaardisering van munisipale rekenings. Volgens die kommissie kan dit help om die land se water- en energievoetspoor heelwat te verklein.

Metrorade soos Tshwane en Kaapstad het al begin om hul rekeninge meer verstaanbaar te maak. Berig: Beeld

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.