Wednesday 11 August 2010

Carlien Burger moet finansiële risiko's elimineer

Sy is slim, sy het ‘n passie vir haar werk, vir haar is iets óf reg óf verkeerd en boonop is sy iets vir die oog. Haar naam is Carlien Burger (links), die risiko- en voldoeningsbestuurder (risk and compliance) by die Kouga-munisipaliteit.

Carlien is sewe maande gelede in dié pos aangestel. Haar werk, in ‘n neutedop, behels

• die identifisering van finansiële risiko’s in die munisipaliteit en
• toesig dat voldoen word aan maatreëls om die risiko’s te elimineer.

Só gaan sy maak

Een van haar eerste take was om ‘n beleid oor haar pos saam te stel. Dit sluit in die skepping van ‘n databasis van plekke waar finansiële sake riskant bedryf word. Die vertrekpunt hiermee was om te leer uit die verlede. In dié opsig, vertel Carlien, het veral die finansiële afdeling, goeie samewerking gegee.

Die volgende stap wat nou wag is dat dié databasis deur senior amptenare en politici van nader bekyk en desnoods verfyn moet word. Hierop volg die daarstelling van nuwe maatreëls om hierdie risiko’s tot die minimum te beperk. Voorts sal dit haar taak wees om toe te sien dat amptenare en politici aan dié maatreëls voldoen.

'n Skerper fokus

Sy sal deurentyd die databasis en nuwe maatreëls moet aanpas.

Dis ‘n stywe opdrag. Sy sien dit as ‘n groot uitdaging vir haarself en vir die munisipaliteit. “Dié pos hou verband met die regering se anti-bedrog en -korrupsieveldtog”, sê sy. “Die fokus hierop het veral uit die kantoor van die ouditeur-generaal skerper geword.”

Warm-telefoonlyne

Een van die moontlikhede wat sy voorsien, is die skepping van anonieme “warm”-telefoonlyne (“hotlines”) waardeur persone vermeende bedrog of korrupsie kan aanmeld.

Carlien is ook by die munisipaliteit se ouditproses betrokke. In die afgelope paar maande het sy reeds verskeie sake wat verkeerd geloop het, reggestel.

Personeel

Sy is regstreeks aan die munisipale bestuurder, dr Eddie Rankwana, verantwoordelik. Tot nou is sy beïndruk met die samewerking wat sy van hom en senior amptenare gekry het.

Carlien het ‘n personeel van drie persone – een risiko-amptenaar en twee ander wat op ‘n kontrakgrondslag aangestel is.

Agtergrond

Sy het ‘n B.Com(Hons) in Rekeningkunde. Vroeër het sy vir vier jaar by ‘n private ouditeursmaatskappy, Grant Thornton, in Port Elizabeth gewerk waar sy haar klerkskap as ‘n geoktrooieerde rekenmeester voltooi het en ‘n jaar as ouditbestuurder aangebly het. Voordat sy by die munisipaliteit aangesluit het, was sy ses maande in diens van die kantoor van die ouditeur-generaal in Port Elizabeth.

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.