Monday 9 August 2010

Waar staan ons vandag?

 Barry Vosloo, voorsitter

Die Jeffreysbaai-belastingbetalersvereniging beywer hom daarvoor om op ‘n nie-politieke grondslag as bewaker oor die munisipale sake in sy geografiese gebied op te tree.

As sodanig bemoei hy hom met die negatiewe aspekte van munisipale dienslewering, maar is ook bereid om die duiwel te gee wat hom toekom.

Die belangrikste interne vraagstukke waarmee die vereniging hom tans bemoei is
  • om sy grondwet te wysig;
  • om sy ledetal uit te brei;
  • om maatreëls te tref ten einde sy kommunikasie met die belastingbetalers in sy geografiese gebied te verbeter en 
  • om nouer samewerking met die wykskomitees van Wyk 3, Wyk 8 en Wyk 11 te probeer bewerkstellig.
Aangesien die wysigings aan die grondwet nog nie afgehandel is nie, sou dit voortydig wees om in hierdie stadium iets daaroor te sê.

Ons het ‘n werkskomitee aangewys om die kwessie van lidmaatskap en die verhoging van ons ledetal onder die loep te neem. Hy het eweneens nog nie sy taak afgehandel nie, dus verkies ek om verder niks daaroor te sê nie.

Ons bestuur het reeds taamlik ver gevorder om kommunikasie met die belastingbetalers in ons geografiese gebied te verbeter. Ons het ‘n blog aangelê – www.jbayratepayers.com. Deur middel van die blog gee ons aan ons lede en ander belangstellendes terugvoering oor die aktiwiteite van die vereniging. Die blog sal eersdaags geadverteer word deur middel van ‘n vlugskrif wat in elke posbus in Jeffreysbaai- en Noorsekloof-poskantoor geplaas sal word. Ons hoop dat ons sodoende die leserstal sal uitbrei. Die blogmeester is ‘n oud-joernalis, Japie Bosch. Hy het uitgebreide ervaring in sy veld, onder meer as munisipale en parlementêre verslaggewer by die destydse Die Vaderland.

Die vierde mikpunt is om een of ander vorm van samewerking met die wykskomitees van Wyk 3, Wyk 8 en Wyk 11 te beding sodat daar oor ‘n breër front druk op die munisipaliteit uitgeoefen kan word.

Die vereniging hou op 29 September 2010 'n algemene vergadering.  Volledige inligting hieroor sal binnekort bekendgemaak word.

1 comment:

  1. Ek sal graag meer inligting wil he rakende hoe die munisipaliteit die belasting van erwe bepaal. Ek het onlangs 'n erf gekoop en is baie geskok oor die uitbuiting van 'n lee erf. Wat meer kommerwekkend is, is die feit dat erwe wat vir meer gewaardeer as myne is, minder betaal, hoe kan dit verduidelik word? Blykbaar kan 'n mens nie eers kapsie hierteen maak nie want dit val op dowe ore. Dis uitbuiting en onverstaanbaar.
    Sal ek baat vind by die vergaderings/om aan te sluit? Is daar enige ander oplossing rakende die hoe bedrag?

    ReplyDelete

Please enter your comments here.