Wednesday 8 December 2010

Wanbetalers skuld miljarde rande

Wanbetalers skuld munisipaliteite al ’n yslike R65 miljard (R65 000 000 000) en daar is geen keer aan dié wegholtrein nie.

Mnr. Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering, het gister toegegee dié syfer is ’n “reuse-bekommernis”, maar gesê hy is steeds optimisties dat munisipaliteite teen 2014 doeltreffend gaan wees “en dinge anders gaan doen”.

Die nasionale tesourie het verlede week bekend gemaak die land se 283 munisipaliteite het teen 30 September vanjaar ’n totale skuldlas van R62,3 miljard  gehad.  Klik hiernaas om die berig in Die Burger te lees.                                                           

Dié syfer was R50,4 miljard teen 30 Junie 2009.

Meer as 60% van die R62,3 miljard is residensiële skuld (R37,7 miljard).

“Die uitstaande skuld is nou ­R65 miljard en styg skerp.Wanbetalers in groot metromunisipaliteite is die grootste sondaars en was teen 30 September R35,4 miljard in die rooi – ’n styging van 12,4% (R3,9 miljard) in vergelyking met die vorige geldjaar.”

Munisipale kenners waarsku al ’n geruime tyd verbruikers sal nie kan byhou by die skerp stygings in munisipale tariewe nie en dat dié skuldlas nog momentum gaan opbou.

Mnr. Mike Schüssler, bekende ekonoom, het vandeesweek gesê verbruikers het in die derde kwartaal van vanjaar 72,2% meer betaal vir munisipale dienste as in dieselfde tydperk twee jaar gelede.


Shiceka het in reaksie gesê hy twyfel of die 72,2% korrek is.

“Munisipaliteite moet hulle begrotings aan die nasionale tesourie voorlê en dit moet in lyn wees met inflasie.”

Hy het toegegee daar is wel gevalle waar munisipaliteite die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting ten koste van inwoners uitbuit. Shiceka het gesê plaaslike regering sal beduidende veranderinge ondergaan ná aanstaande jaar se plaaslike verkiesing, “en nog meer in aanloop tot 2014”.

Die grootmaat-infrastruktuurfonds wat vir 2011 in die vooruitsig gestel word, kan ’n aansienlike verskil maak, het Shiceka voorspel.

“Ek dink byvoorbeeld die rol wat munisipaliteite in die welslae van die Wêreldbeker-sokkertoernooi gespeel het, word onderskat.”

1 comment:

  1. Baie dankie, Meneer die Webmeester, dat jy ons so mooi op datem hou met al die gebeure. Ons waardeer dit regtig baie al bedank ons jou nie elke dag nie.

    ReplyDelete

Please enter your comments here.