Thursday, 29 April 2010

In 60% van gevalle is bouers deel van roof

“In 60% van gevalle waar bouwerk aan ’n huis gedoen word en ’n rooftog later daar plaasvind, is dit dié werkers wat by die rooftog betrokke is.”

So het mnr. Allan Stott, besturende direkteur van Piranha Security, gesê na aanleiding van die wrede aanranding verlede week op die jaar oue Marzaan Kruger en haar oppasser, me. Francina Se-khu, in Robindale, Randburg.

Mnre. Nelson Maphosa (28) en Geraldt Nyantumbo (25), hul beweerde aanvallers, was glo deel van ’n span bouers wat vroeër vanjaar by mnr. Bertus en mev. Madelein Kruger se huis gewerk het.



Sowel Maphosa as Nyantumbo is van Mosambiek.

Stott het by navraag aan Beeld gesê sulke voorvalle waar “bouers” huiseienaars later beroof, is al jare lank ’n probleem.

Dit gebeur veral wanneer kontrakteurs ongeregistreerde stukwerkers langs die pad oplaai.

“Sulke werkers is dan ’n paar dae lank op die bouperseel, waar hulle genoeg tyd het om die inwoners se bewegings dop te hou, asook die inhoud van die huis na te gaan.”

Mnr. Roy Rawlins, besturende direkteur van ADT Security in Johannesburg, meen ook daar is ’n geneigdheid tot misdaad in enige gebied waar bouwerk plaasvind, hetsy dit ’n kompleks of straat is.

“Huiseienaars wat bou- of opknappingswerk oorweeg, moet altyd bevestig dat die onderneming wat hulle gebruik ’n goeie naam het en dat al die werknemers Suid-Afrikaanse burgers en geregistreer is.

“Ons beveel ook aan dat huiseienaars nie stukwerkers op straathoeke oplaai nie, aangesien dit huisveiligheid ernstig in die gedrang bring.”

Stott raai huiseienaars ook aan om aan te dring op afskrifte van die ID’s van ’n boukontrakteur se werknemers en om selfs foto’s van die werkers te neem.

Dit is ook belangrik om die laaste vyf of ses huiseienaars vir wie ’n werker werk gedoen het, as verwysings te kontak, het hy gesê.

“Hou ook tydens bouwerk sover moontlik die gordyne in die betrokke huis toe.”

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.