Monday, 14 March 2011

Wat sê die prokureur?

Hieronder nota’s wat deur Willie Spies beskikbaar gemaak is vir die program “ Wat sê die prokureur” wat nou al tweekeer op RSG uitgesaai is vir u kennisname.

1. Mens hoor deesdae oral van swak dienslewering, diensteproteste en belasting weerhouding, wat is die regte van ‘n belastingbetaler en en plaaslike gemeenskap?

Belastingbetalers het inderdaad regte en so ook plaaslike gemeenskappe. Die grondwetlike bedeling en ook die munisipale bedeling wat aan die hand van veral drie wette die Munisipale Strukture Wet, Die Munisipale Stelsels Wet, Die Munisipale Finansiele Bestuurswet gereguleer word is vol voorbeelde van van regte waaroor gemeenskappe en belastingbetalers beskik.

Die belangrike is dat daardie regte opgeneem word.

2. Wat is daardie regte?

· Die mees voor-die-hand-liggende reg wat ‘n belastingbetaler het, is stemreg in algemene verkiesings en tussenverkiesings.

· Elke vyf jaar kry kiesers die geleentheid om vir die kandidate en partye van hulle keuse te stem. In teorie kan kiesers dus reeds op [stemdag] wanneer daar ‘n algemene verkiesing vir plaaslike owerhede plaasvind stem vir die party van hulle keuse. As die regerende party in jou dorp nie dienste gelewer het nie, behoort hy vervang te word.

· Ons weet egter dat die praktyk in ons land tans ongelukkig nie altyd so is nie. Omdat mense nog stem volgens die verdelingslyne wat gevestig is in die jare van apartheid en die bevrydingstryd, lyk verkiesings gewoonlik tot ‘n groot mate na etniese sensusse. Voorbeeld Standerton. Ons moet dus aanvaar dat verkiesings alleen nie die enigste manier is om die bestuur van ons dorpe en stede te beinvloed nie die ander meganismes is: -

o Gemeenskappe kan hulleself organiseer in belastingbetalersverenigings en inwonersverenigings. Hierdie organisasies mag verteenwoordiging kry op wykskomitees wat geken moet word oor besluite van rade wat betrokke wyke raak.

o Die grondwet en ook die Stelselswet, die Munisipale Finansiele Bestuurswet en die maak voorsiening vir openbare deelname oor belangrike besluite.

o Elke jaar moet die begroting goedgekeur word na ‘n proses van openbare deelname. Daardie proses bevat spesifieke vereistes waaraan voldoen moet word –

§ Begroting ter tafel gelê in raad;

§ Gemeenskap, provinsiale en nasionale tesourie moet uitgenooi word om kommentaar te lewer;

§ Kommentaar moet oorweeg word;

§ Wysigings moet aangebring word om waar moontlik insette te akkomodeer;

§ Moet in lyn wees met riglyne deur nasionale tersourie neergelê;

o Indien ‘n begroting sekere blatante foute bevat of in sekere opsigte irrasioneel is, en daar nie aandag geskenk is aan die insette van ‘n plaaslike gemeenskap / belastingbetaler nie, is so ‘n begroting vatbaar vir geregtelike hersiening.

· Spoliasie

· Die grondwet gee ook sekere regte aan inwoners / belastingbetalers.

o Gelykheid – stadsraad mag nie teen seker belastingbetalers diskrimineer op grond van ras geslag en dies meer nie (art 9);

o Omgewing wat nie skadelik is vir gesondheid en welsyn nie (art 24);

o Eiendomsreg (art 25);

o Behuising (art 26);

o Voedsel en water (art 27(b));

o Billike administratiewe optrede (art 33).

3. Hoe word regte uitgeoefen

Eerstens deur gebruik te maak aan die deure wat die grondwet en ander wette open –

· Stem in verkiesing vir wykskandidaat en party wat jou die beste gaan verteenwoordig;

· Hou verkose verteenwoordigers verantwoordbaar;

· Raak betrokke by wykskomitee verkiesings en neem deel aan vergaderings;

· Vorm ‘n belastingbetalersvereniging en tree kollektief op (saam is ons sterker);

· Beroep jou op op die howe.

4. Sekere gemeenskappe weerhou belastings, is dit wettig?

Belasting word dikwels deur desperate belastingbetalers weerhou en in ‘n aparte trustrekening inbetaal, nadat ‘n dispuut met die plaaslike owerheid ingevolge Artikel 102 van die Munisipale Stelsels Wet verklaar is. Die geldigheid van die argumente wat belastingbetalers oor die verklaring van dispute kragtens artikel 102 lewer moet egter nog in die howe getoets word.

Art 102 bepaal bloot dat die munisipaliteit nie verskillende komponente van ‘n munispale rekening te wete belasting, elektrisiteit, water en vullesverwyderiing mag konsolideer indien daar ‘n hangende dispuut tussen die belastingbetaler en die munisipaliteit is nie.

Waar gemeenskappe dan kollektief ‘n “dispuut” verklaar, en die belastingkomponent van hulle rekeninge weerhou of wegkanaliseer, meen hulle dan dat die stadsraad nie die gebruiklike invorderingsmetodes soos afsny van elektrisiteit of water mag gebruik as die water en ligte komponent van die rekening wel op datum is nie.

Wanneer ‘n munisipaliteit dit wel waag om krag af te sny, bring die betrokkenes ‘n tipiese spoliasie-aansoek in ‘n landdroshof teen die stadsraad om die afsny van water of krag te verbied of heraansluiting te gelas.

Die vertolking van art 102 is nog nie in besonderhede in ‘n Hooggeregshof getoets nie, behalwe aspekte daarvan deur Regter Bertelsmann in die saak van die Pretoria Belastingbetalersvereniging v City of Tshwane (ek sal uitwei oor die saak in die gesprek)

Gevolgtrekking – weerhouding van belasting dalk ‘n bedingingsinstrument en politieke oefening, maar waarskynlik onwettig. Dit is vergelykbaar met die “defiance campaign” van die bevrydingsbewegings in die apartheidsjare – nie wettig nie, maar wel ‘n kragtige mobiliseringsinstrument.

Prokureur sal egter (anders as ‘n politikus) nie ‘n klient kan adviseer dat belastingweerhouding ‘n wettige praktyk is nie.

5. Kan gemeenskappe self ‘n riool-installasie regnmaak?

Die antwoord is “ja” met sekere kwalifikasies. Hier sal ek die tersaaklike beginsels van saakwaarneming bespreek en een of twee tersaaklike hofsake verduidelik.

6. Kan die owerheid water en ligte afsny om betaling af te dwing.

Algemene praktyk. Artikel 102 van die Stelselswet is hier ter sprake. Mandament van spolie ook relevant. Ek sal uitbrei oor die tersaaklike beginsels.

7. Wat bly oor vir belastingbetalers?

Organiseer in plaaslike strukture – beding kollektief. Probeer sover moontlik opbouende rol speel om dienslewering te verbeter. Munisipale Strukture wet en Stelselswet erken die moontlikheid dat plaaslike gemeenskappe vennootskappe met munisipaliteite kan vorm en sogenaamde “munisipale entiteite” kan vestig wat diensvlak-ooreenkomste met stadsrade kan sluit om saam met hulle op te tree en dienste gelewer te kry – dit is die rigting vir die toekoms.

Die suksesvolle litigasie teen munisipaliteite is meestal nie die sake wat op verhore en hofuitsprake uitgeloop het nie, maar eerder die wat op skikkings uitgeloop het. Met ‘n goeie skikking kan jy dikwels op baie meer besonderhede ooreenkom van dinge wat gedoen moet word as met ‘n blote hofbevel.

Omdat howe nie die werk van uitvoerende geag kan oorneem nie – is die trefwydte van suksesvolle hof aansoeke dikwels beperk.

Litigasie moet dus as bedingingsinstrument eerder as ‘n doel opsigself gebruik word, partykeer mag dit selfs beteken dat strafregtelike stappe geneem moet word teen ‘n munisipale ampsdraer ingevolge tersaaklike bepalings van die Waterwet of die Omgewingswette, maar dit moet nooit die doel opsigself word nie.

Die doel moet wees om skikkings te vind wat vir belastingbetalers en gemeenskappe moontlik maak om met eer uit die stryd te tree en vordering te maak.

Die antwoord is dus aktiewe, betrokke gemeenskappe wat verkieslik goed georganiseerd en oplossingsgerig optree. As individu staan jy dikwels alleen, maar as ‘n georganiseerde gemeenskap kan jy sterk staan, hulpbronne saamsnoer om regskostes te bekostig en vorentoe beweeg.

Hoop dis in orde.

Willie Spies

Hurter Spies Ing / Inc

Grond Vloer / Ground floor

Suid Blok / South Block

Solidariteitpark / Solidarity Park

Eendrachtstraat / Street

Kloofsig

Centurion

Tel: 012-664-0708

Fax: 012-644-1997

e-pos/e-mail: willie@hurterspies.co.za

No comments:

Post a Comment

Please enter your comments here.