Showing posts with label Geldsake. Show all posts
Showing posts with label Geldsake. Show all posts

Wednesday, 3 March 2010

Onstellende eienaardighede

Die finansiële state van Kouga se munsipaliteit vir 2008/2009 jaar toon onstellende eienaardighede. Sekretaris Gerrie Botes ontbloot 'n paar.

In dié state bevestig die munisipaliteit dat hy miljoen rande se “onreëlmatige” uitgawes aangegaan het, dat hy prestasiebonusse betaal het, terwyl hy vroeër ontken het dat hy dit gaan doen en dat hy boetes betaal het vir nugter weet waarvoor.

Hoor dié een: ‘n kwart miljoen is aan oortyd uitbetaal aan mense wat nie op oortyd geregtig is nie.

Só praat die state:
  1. ‘n Bylaag oor "irregular expenses" is skokkende leesstof. ‘n Totale bedrag van R35,6 miljoen is hieraan uitgegee;
  2. Ondanks ontkennings dat prestasiebonusse betaal sal word, toon die state dat 'n bedrag van R4.2 miljoen verlede jaar daaraan uitgegee is;
  3. ‘n Onstellende aantekening is dat 'n bedrag van R1.1 miljoen betaal is aan "Penalties", sonder enige verduideliking wat dit behels;
  4. Die state toon ook dat R238 527 aan OORTYD betaal is aan "employees not entitled to receive overtime".
  5. Onderstaande tabel skets ‘n verdere prentjie van:

Item2007/20082008/2009Styging
Uitstaande geld van inwonersR28,6 miljoenR42,4 miljoen48%
Salarisse en lone *R56,9 miljoenR71,8 miljoen26%
ToelaesR7,0 miljoenR9,4 miljoen32%
* Uitgesluit bydraes deur die munisipaliteit, oortyd, toelaes en subsidies.

Saturday, 23 January 2010

Miljoene rand se vermorsing

Jeffreysbaai se belastingbetalersvereniging (BBV) begeef hom ook in die kuberruimte met sy eie blog (noem dit ook 'n webtuiste). Die BBV bestaan sedert 1987 Sy hoofdoel is om die munisipale belange van Jeffreysbaai se inwoners te beskerm. Elke jaar word 'n nuwe bestuur verkies. Elke inwoner is verkiesbaar. Sekretaris Gerrie Botes vertel waarmee hulle besig is en waarna lesers van die blog kan uitsien.
  • Miljoene rande se uitstaande terugbetalings;
  • Onsinnige uitgawes en
  • Twee senior munisipale amptenare wat al maande lank geskors is. Elke maand kry elkeen 'n vet salaris van sowat R70 000 om by die huis te sit.
Intussen betaal die belatingbetalers.

Hierdie is van die sake waaroor die Jeffreysbaai-belastingbetalersvereniging (BBV) 'n valkoog hou. Hier gaan ons u inlig oor die verloop van sodanige sake en veral wat ons doen om geregtigheid te laat geskied. Hier gaan ons oor munisipale sake in belang van elke inwoner van die dorp gesels.
Jeffrysbaaiers is erg begaan oor wanadministrasie, vrugtelose uitgawes, vermorsing van belastinggeld, nepotisme en korrupsie.

Daar is ook kommer oor ‘n gebrek aan rekenpligtigheid van die uitvoerende burgemeester en sommige raadslede asook sekere amptenare, insluitend die munisipale bestuurder en die hooffinansiële beampte.

Sake wat ons tans ondersoek sluit in:
  • Die rampspoedige waardasie van eiendomme. Ons beveg die hele proses. Soos sake nou staan, is die moontlikheid nie uitgesluit nie dat ons in die komende finansiële jaar wat op 1 Julie 2010 begin 'n aansienlik verhoging in erfbelasting sal hê om die Raad se boeke te laat klop. Die waardasies is nie die enigste rede daarvoor nie, maar dra grootliks daartoe by. 
  • Die waardeerder is ook die bedrag van R2.8 miljoen te veel betaal.  Geen stappe, waarvan ons bewus is,  is nog gedoen om hierdie oorbetaling te verhaal nie. 
  • Kabeljouws-woonwapark is verkoop en steeds kan ons nie bewyse kry dat die geld vir die verkoop daarvan ontvang en gebank is nie. 
  • ‘n Verdere nege erwe is verkoop, die eiendomme is reeds oorgedra in die kopers se name, maar ons kan geen bewyse kry dat die geld ontvang en gebank is nie. Ten opsigte van sommige erwe is wel gedeeltes betaal, maar nie een erf is ten volle betaal nie. Hierdie is geld wat ons toekom. Ons glo daar is ‘n algehele gebrek aan verantwoording oor geld wat verkry moes word deur eiendom wat verkoop is en wat aan die inwoners van Kouga behoort.
  • Tans wil die Raad (of dan die hoof finansiële beampte) ‘n lening van R18 miljoen aangaan om voertuie en toerusting te koop. Die probleem is dat hulle die lening oor 20 jaar wil terugbetaal, terwyl die maksimum leeftyd van die bates slegs tien jaar is. Dit maak nie sin nie. 
  • Die neef van die burgemeester, Fred Dennis asook Japie Jansen is al hoe lank geskors, met geen verdere vordering in die proses nie. Intussen verdien hierdie persone ‘n salaries van ongeveer R70 000 per maand, waarvoor ons as belastingbetalers moet pa staan. Die land se president is ook begaan oor hierdie soort administrasie. Die webtuiste van Independent News Media het dié week soos volg berig: "President Jacob Zuma wants the government to do away with suspending lazy, incompetent and corrupt civil servants on full pay ... ". Klik hier vir die volledige berig.
     
  • Een van die jongste skandes is 'n tender wat toegeken is aan die swaer van die hooffinansiële beampte vir die bedryf van die voorafbetaalde elektrisiteitsmeters en die invordering van betalings. Hierdie kontrakteur het nagelaat om R6,5 miljoen aan die munisipaliteit oor te betaal. Tot nou is geen stappe hieroor gedoen nie.
Hierdie is net ‘n paar van die kwessies waarmee ons huidig besig is. Ons sal lesers hier op die hoogte hou van alle sake, die vordering en uitkoms daarvan.